HUGENOTE VERENIGINGHierdie lewendige kulturele vereniging in Suid-Afrika is vir ons in Caledon Villa van besondere betekenis. Die redes?
[a] Ode - Hugenote afstammeling deur die familie Naudé - was betrokke by die bestuur van die Vereniging en ook redakteur van die jaarlikse Bulletin. in 1988 met die herdenking van die aankoms van die Hugenote, is 'n boekie gepubliseer : Die Hugenote 1688 - 1988 deur Ode Krige. Sy was ook verantwoordelik vir die libretto van die Hugenote Kantate - 'n opdragwerk aan die Suid-Afrikaanse komponis Hubert du Plessis
[b] Johan - as ywerige genealoog - is deeglik bewus van die feit dat die eerste vier Krige-voorouers in Suid-Afrika telkens met 'n Hugenote-dame getroud is : drie maal De Villiers en een maal Joubert!
Besoek: www.geocities.com/hugenoteblad
MOEDERKERK
Een van ons kleinkinders is onlangs in die Nederduits Gereformeerde Kerk van Stellenbosch gedoop. Hy is deel van die tiende opeenvolgende generasie van ons familie wat lidmate is van hierdie gemeente. Die feit dat ons betrokke is by Moederkerk, spruit voort uit hierdie historiese verband. Maar ons lidmaatskap berus eweveel op uit ons godsdienstige oortuigings en Christelike geloof. Dit inspireer ons om deel te neem aan sommige van die vele bedieninge wat sigbare manifestasie is van 'n groeiende gemeente.
Besoek: http://www.moederkerk.co.za
NEDERLANDS ZUIDAFRIKAANSE VERENIGING
Caledon Villa is 'n lid van NZAV omdat ons sterk glo in die behoud en verbetering van betrekkinge tussen die RSA en Nederland. Maar dit is veral die kultuurbande waaraan ons veel waarde heg. Ons het direkte kontak met die bestuur van NZAV. Dit spruit voort uit goeie persoonlike verhoudings met bestuurslede en persone betrokke by die maandblad Zuid-Afrika. Meer nog, ons het twee jaar gelede met 'n gesamentlike projek begin wat ten doel het om aan besoekende Nederlanders 'n lys van inheemse gastehuise in Suid-Afrika beskikbaar te stel. Hierdie eienaars is goed ingelig oor plaaslike gebeurtenisse en kontrei besienswaardighede. Dit gaan dus oor meer as net 'n goeie bed en lekker ontbyt. Daar is 'n toegevoegde waarde van persoonlike bystand en versorging.
Besoek : http://www.zuidafrikahuis.nl
STUDIETRUST
Caledon Villa borg 'n beursfonds vir studente in die Toerisme Bedryf. Minderbevoorregte jongmense word hierdeur ondersteun om hulle studies aan 'n tersiêre inrigting voort te sit. Aansoeke en onderhoude word deur Studietrust geadministreer. Nadat die kandidate gekeur is en beurse ontvang het, begin die proses van persoonlike begeleiding en bemoediging en word volgehou totdat die finale eksamen afgelê is. Hierdie persoonlike betrokkenheid deur Studietrust verseker die donateur dat die student met behulp van Studietrust die beste eindresultate met die beskikbare fondse bereik. Hierdie projek is deel van ons BEE deelname. [Swart Ekonomiese Bemagtiging].
Besoek : http://www.studytrust.org.za
