Ode se Domein

Ode is die kunstenaar in die huis: musiekmaker, skilder, digter en skrywer. Maar sy is ook versamelaar van mooi voorwerpe!

Porselein

Onder die dak van Caledon Villa is die Poppekamer. Toegang tot die vertrek is nogal buitengewoon – gebukkend deur ‘n lae deuropening tot in ‘n dogtertjie se droomwêreld! Hier kan gaste met behulp van ‘n plakkaat meer inligting oor die versameling bekom. Die meeste se reaksie is net eenvoudig: WOW!!

Hier swaai Ode die septer. Sedert 1992 was sy dikwels op besoek in Oos-Duitsland. Hier in die Thüringerwald het sy haar keuse gemaak – hierdie tradisionele tegniek en kuns sal al haar aandag geniet. Sy het naslaanwerke aangeskaf en bestudeer totdat sy elke denkbare merk kon uitlê en toe begin sy stelselmatig uitgesoekte stukke oor die internet aankoop. Vandag is daar sowat 200 versamelstukke in haar versameling met ‘n gemiddelde ouderdom van ongeveer 100 jaar.


Antropologie

Sy studeer aan die Universiteite van Stellenbosch en Keulen, Duitsland. Vir haar M-graad doen sy veldwerk in Mpumalanga onder die Ndebele-stam – ook bekend as die Mapoggers. Haar tema is die kunswerke van hierdie tradisionele groep mense.

Tydens hierdie besoeke bekom sy egte voorbeelde van fyn kralewerk en seremoniële volksdrag. Hierdie en nog meer, soos voorwerpe uit Namibië en ou brons stukke uit die Benin-kultuur, is opgeneem in haar volkekundige uitstalling.


Olieverfskilderye

Van haar Weiss-ouers het Ode haar waardering vir kuns in die breë ge-erf. Onder hul nalatenskap tel skilderye deur bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars. ‘n Toer deur die huis sal lei tot die boonste gang waarin sowat 80 van haar jongste tekeninge aan die muur pryk – kunswerke wat sy op haar rekenaar geskep het.

Met talente wat wissel van skilder en skryf tot musiekmaak, gee dit vir Ode vreugde om dit met ander te deel. Maar haar grootste vreugde is om Ouma vir haar twaalf kleinkinders te wees.